2010 Varsitybeker voorskou

Die derde hoofstuk van die FNB Varsitybeker-reeks, ondersteun deur Steinhoff Internasionaal, sal op Maandag 1 Februarie afskop, met die organiseerders en borge wat die rugbypubliek en die onderskeie universiteite aanspoor met die 2010 slagspreuk ‘ondersteun jou manne’.

Hierdie boodskap het sterk deurgekom toe die 2010 Varsitydeker-toernooi Maandagmiddag by die Universiteit van Johannesburg van stapel gestuur is, ‘n geleentheid wat deur die land se voorste universiteits-afrigters en kapteins bygewoon is. Ook teenwoordig was die nuutgevonde universiteits-skeidsregterspaneel en ‘n aantal spesiale gaste, wat SARU en ook die toernooi se lojale borge ingesluit het.Die voormalige Springbok-vleuel Breyton Paulse, wat deesdae sy brood as ‘n rugbykenner op televisie verdien, was die seremoniemeester tydens ‘n goed-georganiseerde funksie by die tuiste van UJ rugby, ‘n geleentheid wat ook deur van die voorste rugbyskrywers in Suid-Afrika bygewoon is. “Die Varsitybeker is ‘n groot bate vir SA rugby, want dit verskaf ‘n geleentheid aan só baie jong spelers in ‘n kretieke tydperk tussen junior en senior rugby op provinsiale vlak,” het Mervin Green, die voorsitter van junior en klubrugby by SARU, tydens die geleentheid gesê.
“Dankie ook aan die borge wat só getrou in SA rugby belê.”

Francois Pienaar, een van die stigterslede van hierdie merkwaardige reeks, was net só opgewonde: “Met die pienk broeke veldtog, Mej Varsitybeker, die SA Rugby Rock-tema en talle ander inisiatiewe, beloof die 2010-weergawe van die Varsitybeker-reeks om meer opwinding en vermaak as die vorige jare te verskaf.

“Die gehalte van die afrigting sal vanjaar weereens hoër wees en dit behoort nog meer waarde aan SA rugby en die Varsitybeker-produk te heg (as wat die vorige jare).”

Pienaar is nie weer vanjaar die voorsitter van die toernooi nie, maar as die Hoof van Borge en ‘n Varsitybeker-raadslid dien hy steeds die reeks.

Die nuwe voorsitter van die Varsitybeker, Jurie Roux, het ook Maandag se geleetheid bygewoon.

“Ons is werklik bevoorreg om een van die staatmakers van SA Rugby – SA Brouerye – weer so nou betrokke te hê by die reeks, met ‘n ontwikkelings-aspek in die vorm van Carling Black Label wat as ‘n ‘nuwe’ borg by ons aansluit,” het Roux gesê.

“Dit is ook ‘n groot stap vorentoe vir ons om die SA Skeidsregters hier teenwoordig en deel van hierdie geleentheid te hê. Skeidsregters is ‘n integrale deel van hierdie produk, die Varsitybeker, en dit is belangrik dat ons dit aangryp.

“Die Varsitybeker bly steeds in harmonie met USSA en SARU en ek wil hulle hartlik bedank vir hul volgehoue ondersteuning van hierdie bekoorlike reeks.”

Met ‘n blik op die speelveld is daar Maties se hoofafrigter, Chean Roux, wat hoop om dit vanjaar ‘n driekuns van oorwinnings in die Varsitybekerreeks te maak – maar die ander universiteite sal ook vasberade wees om die manne van Stellenbosch te onttroon.

Die kragtige NWU-Pukke span, afgerig deur Rudy Joubert, sal graag vanjaar een stappie verder wil vorder as verlede jaar, toe hulle in die eindstryd geklop is. Dan is daar ook die ander twee spanne wat in die halfeindstryd uitgeskakel is, John Dobson se opwindende Ikey Tigers en die harde Tukkies-span van Freddie Grobler.

UJ, waar Hugo van As weer in beheer van sake is, en Shimlas (Jaco Swanepoel as hoofafrigter) gaan alles in die stryd werp om die eerste keer die halfeindronde te haal – veral ná hulle in 2008 en 2009 in die pylvak geklop is. Moet ook nie van NMMU en TUT vergeet nie – wat onderskeidelik deur Kolie Brandt en Alex de Kock (Jimmy Watt steeds betrokke as voorspeler-afrigter) gebrei word. Ook hulle is vol selfvertroue om vanjaar ‘n groter impak op die reeks te hê.

“Hierdie toernooi word elke jaar net groter en beter,” het Chean Roux gesê. “Ek weet dit klink soos ‘n geykte uitdrukking, maar indien ons nie voorbly in die wedloop nie gaan die trop ons inhaal en gou agterlaat.

“Ons sien gewis uit na die 2010 Varsitybeker-reeks. Daar is ook groot opgewondenheid van die rugbypubliek se kant en daar is groot afwagting, want die publiek weet dat die toernooi elke jaar ‘n aantal opwindende nuwe talentevolle spelers oplewer – wat een van die groot aantrekkings van dié reeks is en waarom hy reeds sedert sy aanvang só gewild is.”

Related

One thought on “2010 Varsitybeker voorskou

Comments are closed.